Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 28/01/2022

Scroll to top

Top

Gemeentestories | Oor ‘n volgende tree

Gemeentestories | Oor ‘n volgende tree
– Liesl Cronje –

“What is the next right thing?”, vra sy. Ek gesels met Marlene Lesch en sy vertel my hoe hierdie sin uit die fliek Frozen 2 haar opgeval het. Hoe weet ‘n mens wat is die volgende regte tree? Hoe verder ek met Marlene gesels, hoe meer raak ek bewus van haar diep lewenswysheid. Hoeveel lewenstreë moes sy gee om soveel insig te hê?

Marlene praat oor haar geloof destyds toe sy ‘n tiener was, hoe nuut dit was en hoe swart en wit dit haar na die lewe laat kyk het. Haar werklike intieme verhouding met die Here het eers begin toe sy ‘n jong student was en hoe ouer sy geword het, hoe nader het sy aan Hom geleef. Daarom was haar klaarblyklik jarelange onvermoë om swanger te raak so moeilik vir haar. Marlene vertel hoe sy ‘n studie gemaak het van al die onvrugbare vroue in die Bybel. Sy wou verstaan, want sy het Hannah se pad gestap. En toe, op 43 raak sy uiteindelik vanself swanger, ‘n dogtertjie en drie jaar later nog een. Sy was dankbaar vir dié nuwe treëtjies in haar lewe.

In 2017 doen sy aansoek vir ‘n pos waarvoor sy ‘te oud’ bevind word. Dit was hierdie beslissing wat haar ‘n groot tree laat neem het. Hoe sou sy ander vroue kon help wie se lewenspaaie soortgelyk aan hare was? Sy het besluit om ‘n Meestersgraad in Lewens-en besigheidsafrigting aan die besigheidskool van die Universiteit van Stellenbosch te studeer. Na baie lang en harde ure se werk, het sy weer voor die vraag gestaan, wat is die volgende regte tree? En toe hoor sy van die SG vroue-dinkgroep wat saam met haar hieroor kon wonder: “ … dit was net so ‘n push in die regte rigting” sê sy. Marlene is opgewonde oor die seegroen teekoppie ‘logo’ vir haar deeltydse lewensafrigtings-praktyk en die nuwe deure wat daarvoor oopgaan. Sy is baie bewus van diep geduld hê.

Ek vra haar wat sy geleer het in haar lewe tot nou toe en sy sê: “Wag op die Here, dit is maar die ding. Maar moenie ophou soek nie, wag beteken nie om niks te doen nie.”

Want dit is juis as ons soek, dat Hy bekend maak wat die volgende regte tree is.