Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 28/01/2022

Scroll to top

Top

Gemeentestories | Oor Basaar

Gemeentestories | Oor Basaar

deur Liesl Cronje

My sussie se seuntjie sê nou die dag: “Eendag, dit was eergister …”, en ons almal lag vir sy begrip van tyd en woorde. In my en Pierre se konteks, eendag, ‘n jaar terug, het ons nog naby aan Stellenbosch Gemeente gebly. Ten spyte van die pandemie kon ons steeds met tye kerkdienste bywoon en gesels met ander in persoon, al was dit bo-oor maskers.

Maar nou bly ons ver in die Overberg, amper geïsoleerd in die berge, weg van ons kerk en bekende gemeenskap af. Dit is ‘n aanpassing. Kyk ons om tien uur op ‘n Sondag vir André of Pieter op die ‘Tube’, of kyk ons vier uur die middag. Luister ek dalk Maandag in die kar as ek dorp toe ry na die preek of kyk Pierre Dinsdag as hy vroeg opstaan daarna. Hoe lyk ons kerkritme op die nuwe plek waar ons bly en wanneer gesels ons met ander oor wat ons hoor en verstaan uit ‘n diens? Die preke fokus onlangs op begrippe soos WONDERTEKENS oor LEWE en VANDAG, en ek hoor, maar ek sukkel om die lewe regtig diep binne my te voel. Ek dink te veel oor gister en môre.

En so stap die jaar aan en toe is dit basaar. Ons ry vroeg om betyds te wees vir lekkernye en blomme en mooi dinge. Ek ruik koffie en pannekoek en soet blomme en bloubessies. Ek sien rooi en pienk en seegroen en geel en baie mense wat lag en gesels terwyl rooi en wit vlaggies sing. Basaar.

Eendag, dit was eergister, was ons dankbaar vir konneksie geleenthede soos hierdie. Vandag weet ons daar is steeds lewe en hoop, en Stellenbosch Gemeente se aanlyndienste.