Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 27/10/2020

Scroll to top

Top

Stories | Dis Paasfees

Stories | Dis Paasfees

deur Natie Engelbrecht

.

Dit is Paasfees Maar binne my is ‘n skaafplek. ‘n Wond. Wat groei. Op my siel. Ek onthou die groep mans. Wat altyd sonder hoop gestaan het. Kringe krom skouers. Elk met ‘n plastiek winkelsak in die hand. Op straathoeke. Soos die hoek van Langverwacht en Van Riebeeck. Hulle wag vir loswerk. Dis Paasfees. In Voortrekkerweg, tussen die Real Love Church (“right to admission reserved”) en Bloooo’s Pub, is die deur van die skroothandelaar nou toe. Toe die inperking begin het, het ‘n man en vrou op die randsteen gesit en staar na mekaar. ‘n Trollie vol skroot langs hulle. ‘n Kind het gespeel met ‘n leë plastiekbottel. Dis Paasfees.Die kruising by die Waterfront is nou stil. Ek wonder oor die vrou. Sy het op die laaste dag teen die boom gesit. Haar oë was reeds dood. Soos die glasoë van die teddiebeer in haar hand. “Sy is dronk” het die dik verkeersman gesê wat haar probeer weghelp het. Haar trui was stukkend en haar gesig vuil. Ek weet sy was nie dronk nie. Langs haar, half in die pad, het bagasie gestrooi gelê. Sy was eintlik dood. Ek dink iemand het oor haar hart gery. Dis Paasfees. Die winkelsentrum is steeds vol voorbereide lyke. Mooi opgemaak en aangetrek. Maar die verwaande outomatiese gesprekke is stil. Maar, daar is ook eilande van lewe. Twee skoonmakers wat staan en gesels. Ek wonder oor die vrou wat gesit en huil het in Limnos. Op die laaste dag. Haar alleen was soos vibracrete om haar. Dis alles in die skouers. Die man is jonk, maar sy skouers is vooroor gebuig. Hy sit en huil voor die Engen-vulstasie. Sy pyn lek uit sy nuwe Mercedes en syfer by my bakkie in. Ek ry weg, maar die dood op sy gesig volg my. Dis Paasfees. ‘n Dooie verkeerslig pla nie. Die verkeer is weg. Ek wonder waar die man is. Hy het altyd met ‘n kartonplakkaat, met God as kredietverwysing, geld vir sy vrou… en kinders gesoek. ‘n Jong vrou in ‘n ou Beetle het vir hom McDonalds gegee. Dis Paasfees.
Op die laaste dag, in Hudsonstraat is die verkeer opgehou deur ‘n benoude kleuter. Sy het bo-op ‘n hoop herwonne karton gesit wat vasgemaak was op ‘n Shoprite-trollie. Haar pa het oop mond en tandeloos uit die maag gelag Voorop die trollie het “Joy to the WORLD” geskryf gestaan. Die kind het ‘n lekker gesuig en gefrons vir haar pa wat elke motor gegroet het. Dis Paasfees. In Origin het ek op die laaste dag koffie uit Panama gedrink. Oorkant die pad het ‘n bergie gesit en kleingeld tel. Ons het na mekaar gekyk. En elkeen het die ander se tralies verstaan. Dis Paasfees. Op Facebook is daar nou foto’s van verruklike cuisine en mense wat braai. Meestal wit. Klagtes oor wyn en sigarette wat op is. En klagtes oor mense in townships wat suip. En ongehoorsaam is.

Dis Paasfees.