|
Gepubliseer deur Theo Geyser
|
|
Woensdag, 10 September 2008 |
Om name vir kinders te gee is nie maklik nie. Die afgelope tyd moes ek en Wilma deur só 'n oefening gaan omdat ons 'n nuwe kleinding ryker geword het. Ons almal wil mooi name kies. Familiedruk maak dit nie maklik nie. Elke oupa en ouma wil ook hulle name in kleinkinders sien voortleef. So is ek dan Daniël Theodorus gedoop. My oupa sou trots gewees het, maar ongelukkig is hy oorlede voor my geboorte. Behalwe met formele plegtighede het nog niemand my op my volle name genoem nie. Ons huishulp in Vryheid het my Thula genoem en so ook baie van my familie tot vandag toe. Thula beteken:Bly stil – ek het glo baie gepraat. Sommige familielede wat deur my ouma as upstairs beskou is, het die Th in Theo uitgespreek soos die Engelse dit doen. Op die platteland het dit soos 'n ander naam geklink. Vandag is ek Thula, Theo, Theo, Daniël Theodorus en soms selfs Gysie. Ek hou van almal, maar ek moet sê, dit voel vir my asof Theo eintlik my naam is.
My kinders, Carissa en Milan het ook name bygekry. Milan word Mielies en Boerrie genoem. Carissa word weer Vissa of Bokka genoem. Lucca is 8 weke oud en meernamigheid sal ook sy voorland wees. En soos dit met name is, voel my kinders oor party name goed en oor ander minder goed, maar daardie name wat betekenis aan hulle lewe gee, sal die naaste aan hulle harte wees.
Ek hoop dat my kinders eendag kan ontdek dat die hemel ook betekenis aan hulle name gee. Hulle moet weet dat hulle name in die hemele geskrywe staan.
Ek praat nie hier van 'n kits evangelie–resep wat ons kinders moet glo om in die hemel te kom nie. Ek praat van 'n antieke geloof en manier van lewe waarmee Jode in die Ou- en Nuwe Testament geglo het. Iets waarin Jesus ook geglo het. Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is (Luk 10:20). Jode het geglo dat hulle name in die boek van die lewe staan (Ps 69:28), in die hemel neergeskryf en selfs uitgewis kan word (Deut 9:14). Name word in God se hand gegraveer (Jes 49:16). Hy verlang en roep na ons naam (Jes 43:1). Hierdie beelde of metafore het Jode gehelp om te verstaan dat God ook geloof in die mens het. Daarom is 'n ware identiteit slegs die bevestiging van dit wat ons reeds by God ontvang het.
Indien ons kinders nie weet dat hulle name in die hemel staan nie, sal hulle hulle lewe gee om ten alle koste 'n naam op die aarde te maak. Dan lewe jy eintlik naamloos en jou lot is naammaak.
Sonder betekenis moet ons harder veg teen die sinneloosheid van probeer. In die Griekse mitologie is die storie van Sisiphus vertel om te wys hoe belangrik betekenis is. Hy is gestraf deur die gode en moes elke dag 'n groot klip teen 'n berg oprol. Tevergeefs en magteloos kon hy nooit die klip tot bo kry nie. Sy naam het sinoniem met betekenisloosheid geword.
Naammaak of die strewe om die perfekte selfgemaakte man of vrou te wees, is sinneloos. Hierdie strewe gaan gewoonlik gepaard met toksiese lewensgewoontes soos kompetisie, jaloesie, oor-afhanklikheid, vergelykings en kompromieë. En alles net om te wen ten alle koste, die kop en nie die stert te wees nie. The winner takes all... Vir hierdie strewe haal ons tot die Bybel aan! Dan word my naam 'n maatband waarmee ek myself meet aan hoe ek verelyk met ander of hoe ek die objek van hulle bewondering of goedkeuring word. Binne hierdie kompetisieveld van vergelykings word my naam dan selfs deur die mislukkings van ander bepaal. En so word die een naam se dood die ander naam se brood. Ons kultuur ken bitter min alternatiewe hierop. Paulus waarsku teen so 'n strewe (1 Kor 10:12).
Kinders moet weet dat hulle naam vir God spesiaal is. Hulle moet dit hoor soos wat Jesus dit by God uit die hemel kon hoor (Matt 3:17). Indien ons nie die hemel hoor nie dan sal die aarde ons die klippe van Sisiphus laat rol. Kan dit wees dat Heavy Metal meer betekenis aan kinders gee as hulle Sondagskoollessies? Kan dit wees dat 'n beroep of titel die finale sê oor my naam kry? Waarom die obsessie om altyd te vra: So, wat doen jy vir 'n lewe? Waarom waarsku Jesus in Lukas 10:20 sy dissipels dat godsdiens ook 'n vals naam aan jou kan gee? Ja, selfs hulle gesag en sukses deur duiwels uit te dryf, moet hulle nie laat goed voel oor hulleself nie. Moet hulle nie 'n naam gee nie. Hoekom?
Want hulle het reeds 'n naam. In die hemel. Verborge. God het dit gegee... |