|
Gepubliseer deur Theo Geyser
|
|
Woensdag, 06 Augustus 2008 |
Ek is geleer dat ware pa’s nie bang is nie. Ek onthou my pa ook so. Ek kon spog met my pa. Hy was 'n kampioen bokser. Hy het in Standerton onder die bekwame leiding van Oom Hattingh geleer om te boks.
Toe ek ouer word, wou ek ook boks. Ek het by Oom Hattingh aangemeld. Die eerste aand het ek teen Fires geboks – hy het spierwit hare gehad en was baie kleiner as ek. Ek het nie geweet waarom sy bynaam Fires was nie, maar in die kryt het ek baie gou agtergekom waar die bynaam vandaan kom. Fires se houe was vinniger as haelstene en het soos vuur gebrand. Dit was my eerste en enigste boksles.
Hierdie ervaring en 'n paar ander was die einde van 'n stuk geloof dat ek ook soos my pa kon wees. Om een of ander rede het ek vir die lewe bang geword. Bang vir donker, biblioteke en mense.
Aan die einde van my skoolloopbaan het ek 'n aktiewe lidmaat van die kerk geword. Ek het gehoop vir 'n antwoord op my vrees. Vrees is immers van die duiwel en geloof die antwoord op onsekerhede. Dit was egter die begin van 'n nuwe vrees. Ek het skuldig gevoel omdat ek nie genoeg geloof gehad het om my vrees te besweer nie. Die vereistes om hemel toe te gaan, die moontlikheid van verkeerde dogma en kerkverband het 'n angstige geloof in my geword.
Ek het min of meer geweet waarvoor ek bang is maar het nie altyd geweet waarom ek bang is nie.
Vandag hoop ek dat ek my kinders kan help om te weet waarvoor en waarom hulle bang is. Die 366 keer wat God ons in die Bybel beveel om nie te vrees nie, is genoeg om die erns van vrees te sien. Die vrae wat God vra wys dat die slinksheid van vrees hom voordoen as 'n engel van die lig (2 Kor 11:14).
Ek wil ook hê dat my kinders moet weet waarvoor ek bang is. Ek vrees ook soms wat was, wat is, en wat sal wees. Die toekoms, verlede en die hede. Wat ek weet, nie weet, en vergeet. Ek deel in 'n gebroke skepping waarop my angs uit volle bors antwoord. Ek is nie anders nie as Adam wat ook wegkruip omdat dit die enigste veiligheid is wat vrees kan gee (Gen 3).
Ek wil hê dat my kinders moet weet dat ware pa’s ook bang is.
Die verlange van 'n Superman-pa is nie net die fantasie van 'n kleuter nie, maar ook 'n karikatuur wat pa’s probeer leef. Ek is bang vir pa’s wat strewe na almagtigheid. Vrees is die vader van sekerheid en in-beheer-wees. Daarom is vrees ook maar net geloof, maar in die verkeerde objek.
Ons ontmoet God binne ons vrees. Hy spreek vrees direk aan, sodat ons die tekstuur, die leuen, die valsheid en verborgenheid daarvan eers kan voel. Hier hoor ons die waarom vraag, omdat die mens sukkel om die oorsprong en objek van sy vrees te identifiseer. Adam reken dat naaktheid die rede vir sy vrees is. God moet dit antwoord deur te vra: Wie het vir jou gesê dat jy naak is? (Gen 3:11). Hierdie vrae laat ons dieper dink oor vrees.
Dink maar hoe moeilik dit is om regtig te weet waarom jy nie van sekere mense hou nie. Is jy dalk bang dat hulle slimmer as jy sal wees? Of te veel van jou tyd opneem? Of dink maar aan jou reputasie. Waarom sou dit so belangrik wees om dit te verdedig of beskerm? Is dit dalk 'n vrees dat mense dalk minder van my dink as wat hulle behoort? Waarom moet ons lewenstandaard so hoog wees? Is dit dalk die vrees van eendag te min hê, of dalk minder respek vir my sal hê? Is my groepsidentiteit dalk die vrees van verwerping?
Indien vrees net 'n eksterne boosheid is, of geloof die nodige breinspoeling of vergeesteliking vra om vrees te besweer, sal ons God nooit binne ons vrees vind nie. Daar is genoeg voorbeelde van mense wat Bybelverse en sakramente gebruik om hulle vrees te versag. Dan word die wegkruip van my vrees 'n godsdiens.
Wanneer ek God in die wegkruiphoeke van my vrees ontmoet kan ek dit aan Hom oorgee (1 Pet 5:7). Dit beteken dat ek nie meer in beheer is nie. Dit is vir baie groepe en individue nie beskore nie, want dan verloor hulle beheer. Oorgee kom nie sonder vrees nie. Is dit nie miskien die beste plek om weer bang te wees nie?
Lees gerus Richard Rohr se artikel, Fear Itself.
Hierdie artikel verskyn
in die Augustus-uitgawe van die Afrikaanse Christelike Gesinstydskrif
LIG. www.lig.co.za. |