Image Image Image Image Image Image Image Image Image Image

'n lewe wat IETS BETEKEN | 02/03/2021

Scroll to top

Top

5 Ritme idees vir Kinders

5 Ritme idees vir Kinders

deur Deon Botha

Geestelike dissiplines is ritmies, net soos asemhaal.

Sou ons nét inasem of nét uitasem sou ons sterf! Ons het die ritme van in-asem en uit-asem nodig om te lewe. Dit is dieselfde met ons lewe saam met God, ons verhouding met God. Omdat ek God nie met my oë kan sien nie is daar sekere goed wat my kan help sien. As ons dit gereeld doen, voel ons naby aan God en hoor ons maklik wanneer Hy met ons praat.

 

1. Eerste Asem

Hierdie is die maklikste en vinnigste manier om te onthou, God is naby. Dit werk ook baie goed as jy gespanne, angstig of bang voel. Dis hoe dit werk:

Asem diep in – terwyl jy inasem verbeel jou daardie lug is God se Gees wat jy in jou lyf intrek. Vra vir God om jou te vul met die Heilige Gees, elke stukkie van jou lyf.

Asem alles uit – blaas weer alles uit terwyl jy verbeel hoe jy al jou angs en bangwees vir God gee. Gee vir God jou hele lewe soos jy uitblaas en sêin jou kop vir Hom Hy kan alles van jou kry, jy is heeltemal Syne.

Doen dit elke oggend sodra jy wakker word.

Doen dit net voor jyn toets, n mondeling of eksamen skryf.

Doen dit as jy kyk hoe die son sak of wanneer jy op n berg staan met n mooi uitsig.

Doen dit as jy bly is.

Doen dit as jy hartseer is.

Moenie dit doen as jy onderwater swem nie 😮

2. Beweeg

Sommige van die woorde waarmee God se Gees in die Bybel beskryf word is dieselfde woorde vir asem of wind. Dis hoe dit werk:

 

Voel die wind –Gaan klim op jou fiets en ry so vinnig dat jy die wind op jou gesig en in jou hare voel. Jy kan ook op n swaai klim in die parkie of in julle tuin, om die wind te voel. Soms waai die wind sommer vanself buite, dan kan jy net daarin gaan staan. Terwyl jy die wind op jou gesig voel, dink jy daaraan dat God se Gees oral om jou is. Jy voel hoe jou hele lyf, jou hele fiets, jou hele agterplaas, die hele parkie vol van die Gees is.

Gewoonlik wanneer ek dit doen voel ek besonder vry en veilig. God se Gees maak ons vry van dinge wat ons inperk en terughou en bang maak.

3. Stilhou

Soms hardloop die lewe en ons emosies so vinnig en in soveel rigtings dat ons nou en dan net bietjie moet stilhou. Sommer net om te onthou dat ons nie heeltyd hoef te vlug of presteer nie, jy mag maar net jouself wees. Dis goed. Dis hoe dit werk:

Anker jouself – Sit of staan regop met albei voete plat op die grond. Jy kan ook plat op jou rug gaan lêop die grond – dis die beste om die grond mooi stewig te voel. Maak jou oëtoe en wag ten minste n minuut in stilte. Jy sal voel hoe jy skielik dink aan al die gesprekke en gebeure van die dag, probeer daardie gedagtes sagter en sagter maak. Haal diep asem. Dit vat soms n rukkie. As die meeste geraas stil is sêin jou hart:

            Ek is hier.

            God is hier.

            Ons is saam hier.

 Jy kan dit herhaal as jy wil of tot jy voel jyt nou lekker ge-anker. Dit was dit. Maklik né?

 

4. Borrels

Elke dag is daar n klomp dinge wat ons doen waaroor ons kan jammer sê. Dis n wonderlike gewoonte om gereeld jammer te sê, vir ons mense en vir God. Om dit eerste vir God te sêgee ons soms die moed om dit vir ander ook te sê. Die probleem is net, ons dink nie altyd vanself daaraan nie. Hierdie kan help. Dis hoe dit werk:

Wys my was – Elke keer wanneer jy in die bad of stort klim, smeer jy jou spons of waslap met seep tot die wit skuimballe so staan. Terwyl jy die seep aansmeer vra vir God om jou te wys waar moet jy gaan jammer sêof waar jy jou hart besmeer het met lelike woorde, optrede, gedagtes, wat ookal.

Was my wys – Dan was jy lekker daardie lyf terwyl jy vra dat God jou hele lewe en hart en tone en gedagtes en tong en brein en alles sal skoonmaak. Jy klim n nuwe mens daar uit. Nadat jy aangetrek het, gaan kyk in die spieël hoe lyk n spik-splinternuwe mens!

Jy kan dit ook elke oggend met tandeborsel doen en spesifiek vra dat jou woorde soos n vars bries vir ander sal wees.

5. Geheime Geskenk

Dit is lekker om n geskenk te kry maar nog lekkerder om een te gee. Geskenke hoef nie altyd iets te wees wat jy toedraai nie, dit kan maklik ook iets wees wat jy doen. Wat n geskenk wel altyd is, is n verrassing. Dis hoe dit werk:

Verrassing – Hiervoor moet jy slim en wakker wees. Soek iets wat jy vir iemand kan doen wat hulle kan help of wat hulle goed laat voel. As dit moontlik is moet hulle nie eens weet wie dit was nie – amper soos n geheime agent van goedheid! Hier is n paar idees:

            – Bak koekies en lewer af by vriende, vreemdes, vyande of verlorenes.

            – Maak n kaartjie vir iemand wat verjaar of siek is of wie iets mooi gedoen het.

            – Maak n toebroodjie en gee vir iemand wat lyk of hulle lanklaas so iets gehad het.

            – Gaan kyk deur jou speelgoed en kies alles waarmee jy nie meer speel nie, gee dit

              vir ander kinders. Laat jou ouers help om die regte plek te kry.

Jy kan een van die vyf doen, jy kan al vyf doen, maak nie saak nie. Jy kan selfs jou eie uitdink. Wat wel belangrik is, is dat ons besef dat God heeldag, oral, saam met ons is. Dat ons maklik met Hom kan praat en kan staatmaak op Sy leiding. Hy wys graag vir ons rigting as ons Hom vra. Soms geniet Hy dit net dat ons voluit lewe, die geskenk van lewe waardeer wat Hy gegee het.